Aberdeen VLV Inspirasie Oggend

Op 22 Mei 2019 bederf Aberdeen VLV ongeveer 50 vroue van Aberdeen en omgewing met ‘n inspirasie oggend.

Lea van der Vyver verwelkom almal en open met gedagtes uit die Woord dat God ons wonderlik geskape het en ons Sy vrede en liefde gee om sodoende in enige omstandighede in oorwinning te kan leef.

Elize Hattingh, boervrou van Frankfort, het ‘n hart om vroue te bemoedig en te motiveer met haar persoonlike getuienis.  Die Here het op haar hart gelê om die “Fontein van Hoop” bediening te begin.  Sy deel haar verhaal van kinderdae tot nou – die rebellie en woede teenoor God en hoe Hy haar gered het en nou lei om ander in nood Sy hoop te gee.  Sy sluit haar praatjie af met die speel van die Bethel Music lied “No longer a slave to fear”.  Sy bederf ook elkeen met ‘n gedig, spesiaal vir haar bediening geskryf, sowel as tuisgemaakte koekies en ‘n capachino.

Archie Norval, argitek en plaaslike inwoner van Aberdeen, deel daarna die nuutste tendense in binnenshuise versiering met die dames.  Die inligting verkry hy van sy besoek aan die Maison en Objet Handelskou in Parys, Frankryk waar tendense vir die volgende seisoen uitgestal word.  Tekstuur in elke vertrek is belangrik – grof, glad, matte, material, hout, rottang, metaal en selfs plante – alles gee tekstuur en jy moet die balans vind van elke element wat jy gebruik om die voorkoms te kry wat jy verlang.  Die kleure vir die nuwe seisoen is gebrande oranje en amber en muurpapier en 3D versierings is groot.

Archie Norval vertel ook van die Georg restaurant wat hy en Nico Kemp nou bestuur.  Hulle spyskaart variëer na gelang van vars produkte beskikbaar en Sondae bied hulle ‘n buffet ete waar jy betaal volgens die gewig van die kos wat jy opgeskep het.  Elke vrou ontvang ook ‘n pakkie Delish mengsel vir verskillende produkte soos vetkoek, pannekoek en mieliebrood, wat hulle ook in die area bemark.

Drie gelukkige trekkings word gedoen en Lize de Jager, Elise Steynberg en Megan Meyer is die wenners.  Die oggend word afgesluit deur saam te kuier en gesels met koffie en eetgoed wat verskeie vroue gebring het.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *